“Kies geluk”

Julie 10, 2011

Ek het ‘n knop in my keel.

Ek wag vir die foon om nie te lui nie. Eers dan sal alles wat ek wil sê haar tref.
Ek tik solank die boodskap wat alle bande tussen my en die persoon vir wie ek die liefste het sal sny.

“Totdat jy dit vir jouself gun om gelukkig te wees, kan ek jou nie in my lewe hê nie.”

Ek wag vir daai foon om te lui, sodat ek nog so ‘n bietjie langer kan hoop.

Advertisements

Vir die ‘non’

Mei 14, 2011

Jy het gesê liefde is niet.
In oorgee is daar geen eer.
Gemak verander in verdriet.

Ek het gesê dat liefde bestaan:
Dis heerlik, hemels, hartseer;
Ver van my bereik of verstaan.

Ons het apart of saam besluit
Om nie tweede te kies nie.
Eerder alleen wees as met verwyt,
Want niks minder as ‘n prinses
Of ridder is goed genoeg nie.

Maar sê nou ons word oud,
En die nagte al meer eensaam
En die winters al meer koud,
Sal jy met my trou, sodat
Ons iemand het om mee te spot;
Iemand om ons regop te hou
Wanneer ons wil swig voor die lot?


Myne

Augustus 27, 2009

Ek breek jou af
en bou jou op

Jy skud jou kop
ek hou jou dop

Ek maak jou woedend
en lam en skaterlag

Jou lewe in eenvoud
kom ek en kompliseer

Alles mooi georganiseer,
in bokse geplaas
elke ding waar dit hoort,
soort by sy soort,
kom ek en skuif dit rond
weer heel deurmekaar

Maar ek ken jou goed
en ek weet wat jy benodig
die bietjie is genoeg
om behoeftes te bevredig
om met my uit te hou,
dis die keuse wat jy maak

Wat ek jou gee is als
wat jy werklik wil hê

Dan beur jy eens weg,
maar ek trek jou terug,

Hou jou styf vas
en jy hoor weer:

Gee net op,
jy’s myne!