Die boelie by die groente winkel.

Oktober 8, 2009

Ons het maar soos altyd buite by die swaaie gewag, terwyl sy haar groente in die winkel uitgesoek het. Die speel parkie was langs die parkeer terrein en daar was gewoonlik nie veel ander kinders nie.

Die vreemdeling seuntjie was meer jou ouderdom en hy het reguit na ons toe aangeloop op soek na vermaak. Julle twee het gegroet en saam begin speel. Toe ek nader kom, het hy my weggejaag, sodat die twee grotes uitsluitlik die swaai kon gebruik. Ek het baie veronreg gevoel dat jy sy kant kies, maar ek het net na ‘n ander apparaat beweeg en my eie ding gaan doen.

Dit was nie lank nie, toe kom storm die magsbehepte vent weer op my af. Hierdie keer het hy my vasgepen en my wind uitgefoeter. Die ongekenne geweld het jou verstom laat toekyk. Ek kon nie ‘n woord uitkry nie, het deur die pyn gewens jy kom tot my redding.

My desperate poging om te vlug het my tot by die klimraam gebring, waar ek skaars kon opklim om weg van die gevaar, oor ‘n dwarspaal te lê en kreun. Ek het nie gehuil nie, moontlik uit skok, beslis uitasem. Vanuit ‘n afstand het ek gekyk hoe jy doodluiters met die klein kak aanhou speel het. Ongeërg, lafhartig, geen held vir ‘n kleinboet. Miskien was jy stilweg bly dat ek, wat altyd skree en my sin kry, ‘n slag op my plek gesit is.

Ek het jou nie vir altyd daaroor verwyt nie. Ek kon jou situasie verstaan, maar daardie dag het ‘n skeiding tussen ons twee gebring. By my ‘n gevoel van minderwaardigheid. By jou het iets van daardie ervaring vasgesteek. Hy het jou mos geleer hoe om met my te maak. Die rede waarom jy my moes verwerp het jy nie geweet nie, net die tendens dat jy jouself en jou vriende moet afsonder van die swakker, jonger een het by jou gebly. In daardie kritiese tydperk van broederskap vorming, het ons verhouding geswik onder uitbarstings van aggressie en emosionele onbetrokkenheid by mekaar.

Die aanvanklike gevoelens sou mettertyd verdwyn, maar vir baie lank het die onverstaanbare skeiding agter gebly. Wanneer die behoefte aan intimiteit opdaag, is dit altyd ongemaklik. Dit is die resultaat van jare se leemte, waar liefde kon gewees het.