Wat eet jy daar?

Mei 1, 2010

My een Fisiologie dosent vertel vir my hierdie storie.

Dit werk nou maar net so dat eksperimente op diere gedoen word. Dit sal nie verander nie. Wanneer daar ‘n nuwe medisyne ontwikkel word, is een van die stappe om dit op diere uit te toets voordat dit op mense getoets mag word. Hierdie diere moet min of meer oor dieselfde biologiese prosesse as mense beskik en daarom is dit ook beter om groot diere te gebruik in die toetse.

Universiteite doen kosbare navorsing op diere, maar hulle volg streng prosedures om so eties as moontlik te werk te gaan. As jy op ‘n spesifieke orgaan wil werk, maak jy eers jou dier dood; gewoonlik deur inenting met ‘n middel wat die hart laat stop. Isoleer dan die orgaan en verwyder die res van die karkas.
Stellenbosch U het groot incinerator-oonde by die proefplaas om die karkasse in te verbrand, maar instansies soos UCT stuur gewoonlik die oorskiet na ‘n rommelwerf.
Nou het dit al in die verlede gebeur dat bewoners van gebiede naby hierdie vullishope die (geleentheid) aangegryp het om lekker spare-ribs te kan braai vir hulle mense. Soms was hulle gelukkig en is die vark nie kwaai gedokter nie; ander kere het jy gekry dat groepe mense vir ‘n paar dae onverklaarbaar uitpass.

Die oplossing was nogal baie kreatief. Hulle spuit die karkasse met ‘n stof wat proteïene blou kleur. Niemand eet ‘n blou vark van ‘n vullishoop af nie.