Aan alle getroue lesers

November 19, 2011

Dankie vir al die wederkerigheid met my oor hierdie blog. Ek het besluit om nie weer gou hier te publiseer nie, maar gaan alles net so behou. Miskien laai ek eendag weer ‘n paar lekker gedigte op of wat.


Psilocybin sampioene (magic mushrooms)

Augustus 9, 2011

Uit my navorsing en genoeg tyd vir refleksie oor my bevindinge van hierdie eienaardige substans, het ek iets konkreets vasgevang om oor te skryf.

Nadat dit gedroog is, word ‘n algemene dosis van 1 tot 2.5 gram gekou en ingesluk. Meeste mense verkies om dit saam met iets af te sluk soos jogurt. Dit het nie ‘n skerp smaak nie, maar neig na bitter of frank. Na inname neem dit so ‘n halfuur om in te skop en dan werk dit vir omtrent vier ure. Baie mense sal getuig dat hierdie sampioene ‘n blywende indruk op hulle gemaak het, tot nuwe insig gelei het of ‘n spirituele belewenis teweeg gebring het. Eksperimentele navorsing op ‘n vertroude proefpersoon het die volgende resultate bepaal.

Dit maak mens bewus van jou ego; jou onderbewuste impulse en hoe aktief hulle jou lei. Terwyl dit op jou werk het jy ‘n sterker greep op jou onderbewuste. Impulse soos honger, dors, koue, pyn, gevaar, en selfbewustheid word so helder soos daglig. Jy sien hoe belaglik sterk hierdie impulse jou natuurlik beheer en jy kan nou kies om dit te ignoreer en eerder te sit en te fokus op al die onbekende inligting wat jou brein ewe skielik moet prosesseer. So jy bly dus eerder op een plek sit om te dink. Hierdie sit-en-dink gedrag kan vreemd voor kom vir ander wat nie verstaan wat met jou aangaan nie. Jy is eintlik bang dat mense op jou afkom en jou ondervra. Daarom is dit belangrik dat jy ‘n rustige omgewing kies met mense wat jou situasie sal verstaan of wees miskien afgesonder wanneer jy dit doen. Tog, dit is interessant om met hierdie nuwe gedagtes of “oë” na die wisselwerking tussen mense te kyk. Jy sien die dinamika van mense op ‘n metakognitiewe vlak en kan baie uit die ervaring leer.

Jy is nie net bewus van jou eie ego nie, maar ook van dié van ander. Jy sien hoe mense konstant hulself verdedig in ‘n gesprek. Jy sien die versperrings tussen mense, selfs vriende, en hoe almal teruggehou word deur etiket en sosiaal gekonstrueerde hindernisse. Jy sien ook die behoefte van mense om erken te word, sodat ander hul sal verstaan en aanvaar: hoe die ontkenning daarvan lei tot sosiale probleme, selfsug, jaloesie, ‘n dryf na status- ambisie, ‘n ego.

Saam met hierdie nuwe insig is daar ook ander “special effects” wat deurgaans met jou brein speel. Die kontras van kleure word sterker waargeneem. Sommige mense ervaar visuele en/of ouditiewe hallusinasies. My proefkonyn het die volgende te sê gehad oor sy/haar ondervinding:

“Met my eerste en moontlik laaste ‘shroom trip’ het ek in ‘n waterpoel geduik, langs ‘n rivier op rotse gelê, gebak in die sonnetjie en gestaar na die ring van berge om my onder die blouste blou. My gedagtes het vrylik gevloei, maar ek was steeds bewus van alles rondom my. In ‘n oomblik van introspeksie het ek oor die lewe en myself nagedink en tot nuwe gevolgtrekkings gekom wat ‘n blywende invloed op my huidige perspektief gehad het. Dit was een van die top 5 beste oomblikke van my lewe.”

Sover lyk my inskrywing baie sydig en lig dit net die positiewe aspekte van psilocybin sampioene uit. ‘n Waarskuwing of twee is moontlik gepas. Die substans is onwettig in Suid-Afrika. Verouderde sampioene kan toksies word. Dit is NOODSAAKLIK om te bevestig dat die regte spesie ingeneem word, want soortgelyke spesies is DODELIK. Jy gaan mees waarskynlik beheer verloor oor jou gedagtes. Party mense ervaar angs wat kan lei tot paranoia en dan sit hulle vir ongeveer 4 ure met die nagevolge. Indien jy twyfel of jy dit moet doen, bly weg!


“Kies geluk”

Julie 10, 2011

Ek het ‘n knop in my keel.

Ek wag vir die foon om nie te lui nie. Eers dan sal alles wat ek wil sê haar tref.
Ek tik solank die boodskap wat alle bande tussen my en die persoon vir wie ek die liefste het sal sny.

“Totdat jy dit vir jouself gun om gelukkig te wees, kan ek jou nie in my lewe hê nie.”

Ek wag vir daai foon om te lui, sodat ek nog so ‘n bietjie langer kan hoop.


Soetbitter verligting

April 19, 2011

Ek het haar vandag weer gesien en ons stem saam dat ons verhouding nooit regtig ‘n kans gekry het nie.
My trane het nie geloop nie. Dit het so geraak-raak aan my wimpers, maar gou weer opgedroog. Vir haar het ek lief geword soos geeneen tevore nie.

Maar ek het lankal geweet ek verloor. Van die begin van die jaar het dit al hoe moeiliker geraak om haar in die hande te kry. Elke nou en dan het sy wel tekens gewys van belangstelling en die kere wat ons alleen saam was, was gemaklik en alles was dan weer perfek. Natuurlik was ek so mal verlief dat die dunste garingdraadjie van ‘n kans my nog agter haar laat aanloop het. Ek is spyt dat sy my nie al vroeër gesê het nie, maar ook hartseer dat sy my nooit ‘n behoorlike kans gegee het nie.

Ek het haar ‘n jaar gelede ontmoet. ‘n Vriendskap het begin groei en die vonke van moontlikhede was in ons oë. Na een intieme aand het die deur oopgegaan en kon ek so bietjie in haar wêreld wandel en verken. Ek het na elke kuier al hoe meer van haar begin hou en vir ‘n maand lank het dit goed gegaan. Ons chemistry was amazing. Ek het beleef hoe ek haar senuagtig maak as ek nader staan en haar effek op my was presies dieselfde. Ons het die interessantste goed in gemeen gehad. Sy het baie van my sienings oor die lewe gedeel; my taal gepraat; sy was een van my soort.

Toe begin die misverstande. In die eerste plek het ek besluit om hierdie keer baie veilig te speel, omdat ek so baie van haar gehou het. Veilig speel is ongelukkig iets wat ek nie veel kennis oor het nie. Ek het vir haar van die begin af spasie en tyd gegee- in retrospek definitief te veel spasie en tyd. Verder het ek nooit alles van my aan haar ontbloot nie. Ek het altyd ‘n bietjie terug gehou, sodat daar verrassings sou wees wanneer sy my beter leer ken. Wat ek egter eers besef het toe dit te laat was, is dat sy baie skaam is om oor haar gevoelens te praat of om hul uit te druk. Sy het aan die begin nie veel gereageer as ek haar gesoen of haar hand vasgehou het nie. Dit het my effens ontstel, maar ek het haar nooit gedruk om verder te gaan nie. Snaaks genoeg, dit was eers in die finale stuiptrekkings van ons ‘awkward tydperk’ wat sy sterker reageer het. As ek ‘n week gelede geweet het wat ek nou weet, sou ek haar langer gesoen het by ons finale praatjie.

Ek het haar baie aangemoedig om met my openlik te praat oor haar gevoelens en om ‘n besluit te maak of ek die een is of nie. In haar openbaring het ek vir die eerste keer uitgevind dat daar ‘n ander ou ook in die prentjie is. Skielik het alles vir my begin sin maak. Ons het mekaar nie veel in die Des/Jan vakansie gesien nie. Sy het toe gedink ek stel nie belang nie, het oor my probeer kom en geïnvesteer in die nuwe ou. Heel jaar lank moes sy dus beide kante toe speel en dit verduidelik die skuld gevoelens wat ek van tyd tot tyd opgetel het. Dit was uit desperaatheid wat ek toe maar besluit het om ons situasie vinnig uit te sorteer. Ek lok haar toe uit met ‘n emosionele boodskap, wat my frustrasies beklemtoon en haar vra om te man-up en te besluit. Ek het sterk getwyfel of sy nog vir my sou kies as ek nog tyd gegee het en ek was al moeg gewag; my stresvlakke kon dit nie meer hou nie. Needless to say, toe kies sy die ander ou.

‘n Deel van my is kwaad, omdat so ‘n bietjie geluk en ‘n goeie week saam met haar, haar besluit in my guns kon laat swaai het. Aan die ander kant is ek verlig, omdat daardie bietjie geluk vir maande lank al wegkruip. As ek eenmaal iemand soos sy kon ontmoet en voor lief raak, kan dit weer gebeur. Of wel, dit sal die ideaal wees. In realiteit was sy moontlik my trouvrou wat ek toe verloor het. As dinge net anders verloop het kon ons lank al saam gewees het. Ek sou graag my toekoms met haar wou deel en ek dink ek sou haar die gelukkigste vrou op aarde kon maak.


Herbou

April 19, 2011

Ek is terug. Ek het my blog weer nodig en ek wil weer skryf. Ek dink daaraan om hom so bietjie op te ruim. Van die ou inskrywings is te pretensieus of vervelig. Ek wil eintlik net die goeies ten toon stel. Maar vir nou moet ek eers so bietjie stoom hier afblaas. Ek sit alleen in my kamer en my maag kreun van die pyn.


Geure en reuke

September 6, 2010

My reuksintuig is vir my uiters belangrik. Oor die algemeen is ek op al my sintuie ingestel, maar my neus is ekstra sensitief. Dié wat gereeld hier lees, sal agter kom dat reuke ook ‘n groot rol in my stories en gedigte speel.

Mense onderskat soms die krag van hierdie sensasie op die brein en herinneringe. Ek onthou reuke van my kinderjare, waar die prentjies al vervaag of verdwyn. As ek nou ‘n toneel uit my verlede herroep, kom die gepaardgaande geure daarmee saam.

Ek geniet dit om hiermee getoets te word. Op skool sou een van my vriende ‘n baadjie in die klas laat lê en ek sou weet aan wie dit behoort deur daaraan te ruik. My ouers vra my gereeld om die oorsprong van iets vrot uit te snuffel. Moet ek jou die verskil in reuk tussen ‘n dooie kat en rot verduidelik?

Sekere bekende reuke is vir my belaai met emosie. Daar is byvoorbeeld ‘n spesifieke bekende vroue deodorant spray wat my onmiddelik aantrek. Dit was een van my vorige liefdes se gunsteling en as ek dit ooit in ‘n publieke area ruik, gaan ek outomaties in hunt-mode. (Nee, ek gaan nie sê nie)

Wanneer ek ooit vir klere gaan shop, sal ek uit nuuskierigheid altyd verby die parfuum afdeling in winkels loop en aan die testers ruik. Dit is nie nodig om aan te spuit nie; ek kan reeds opmerk dat die reuk my sal irriteer na dit ‘n uur aan my vel hang. Dan is ek altyd verbaas oor die pryse van bekende reukwaters. Ek kan my nie indink hoe iemand soveel kan betaal vir ‘n botteltjie eau de toilette/parfum wat nie vir my lekker ruik nie. Is dit bloot omdat dit ‘n bekende naam is of kan mense net nie ruik hoe van die goed stink nie?

Daar is gewoonlik so een uit tien waarvan ek so bietjie hou, maar die kostes oortref meestal die gerief. Ek het nooit voorheen aftershave of cologne gekoop nie. Ek kan op my vingers tel hoeveel mans parfume al ‘n indruk op my gemaak het; wat ek beslis sal koop. Letterlik:
1) Die Switserse seun wat by ons kom bly het op ‘n koor toer 12 jaar terug. 2) My ou skeinat meneer 3) So onbekende ou wat een dag voor my geloop het op pad klas toe. 4) Een van my vriende se vriende by ‘n braai verlede jaar. Ek vergeet altyd om te vra wat hulle gebruik.

En toe, vir die eerste keer ooit, vind ek verlede week ‘n parfuum wat my laat omdraai het om weer daaraan te gaan ruik en selfs aan te spuit. Die volgende dag het ek wakker geword en dit gaan koop. Gelukkig het ek ‘n paar rand na my verjaarsdag gehad. Groot was my verrassing toe die produk die helfde minder kos as die meeste ander. Sowaar, die maatskappy probeer vir almal bekostigbaar wees- lees ek toe na ‘n Google Search.

Daar is ‘n ander kant aan ‘n sterk neus. Mense se geure kleef aan jou klere tot jy dit was. Jy weet ook dinge wat ander nie weet nie, maar ek is te skaam om dit te verduidelik.

Ek het ‘n groot wens: om in Grasse, Frankryk, te gaan leer hoe om parfuum te maak. Ongelukkig leer hulle hierdie kuns nie sommer aan vreemdelinge nie en die enigste skool kos omtrent R180 000 vir die internasionale kursus van twee jaar. Enige donasies? 😆


Huidige lewe: Augustus 2010 update

Augustus 23, 2010

Hoe gaan dit met my? Wat is nuut in my lewe? Waarmee hou ek myself besig?

Vir dié wat werklik belangstel en nie net uit gewoonte vra nie: ‘n kort oorsig oor my huidige doen en late.

My gemoed is blink en ek voel goed. Ek is amper 22 en sonder kriminele rekord. 🙂
Ek bly by die huis saam met mammie, pappie en gr.10 boetie in die Paarl. Ja, ek swot nog. Maak nou my 3-jaar graad in 4 jaar klaar. Volgende jaar is dit NOS. Ek gaan nie ophou studeer voor ek 3 grade het nie en dan gaan ek kanse vat met die opsies wat vir my ooplê, tuis of oorsee.

Deesdae gaan slaap ek al 11uur op ‘n weeksaand, mits daar nie ‘n taak die volgende dag ingegee moet word nie.
Gym of draf so drie keer ‘n week, eet gesond (min sout/suiker/olie) en was elke tweede aand my hare met sjampoe.
Ek probeer elke 2de Sondag die oggenddienste bywoon, maar laat Saterdae aande kanselleer soms hierdie ideaal.
Twee maal ‘n week gaan oefen ek salsa danse in Wellington. Daar het ek ‘n paar b-boys ontmoet wat my met mening wil leer breakdance. Ek moet Saterdag by my oupa se verjaardag partytjie ‘n lied sing.

Ek het maande laas gaan fliek, een speeding ticket wat voor my lê, rook een maal in 2 of 3 weke hubbly bubbly. Naweke geskied meestal in die Paarl. Ek het in April laas dagga gerook en in Julie laas lekker gevry. Daar is niemand wat ek tans in die oog het nie.

O ja, ek pieps so 3 maal ‘n dag.

Dis mos omtrent al wat mense wil weet, of hoe?