Ek kyk om

Julie 27, 2010

Vir Grieta

Ek kyk om na my lewe,
Waar my voetspore maar netsowel
Dié van my skaduwee kon wees.
Spoor in stof.

Sou ek omdraai en die spoor volg,
Is dit een van net nog ‘n mens
Wat eet, slaap, asemhaal.
‘n Broer, ‘n seun; ‘n vriend.

‘n Ander siel kon dié spoor trap-
Al die pad tot waar dit stop,
Waar voetjies gevorm is uit stof.
Stof trap stof.

Meer as die stof wat getrap is-
Die siel wat dit getrap het:
Sy besluit waar hy sy voet nou plaas,
Tree vir tree.

‘n Gevoel van sin, miskien waansinlik:
Die vryheid van Hansie,
Wat slim-slim die wêreld wil in.
Wyd en syd.

Al tel dit op tot meer as stof
Is deel van my steeds- stof;
En stof wat lewe het behoeftes
Dag na dag.

As ek maar net, selfs vir ‘n dag,
Kan ophou smag en voel.
‘n Ander stoflyf, ander Griet
Styf teen my.

Daagliks soek ek na ‘n rede
Om te voel, ek jaag dit na.
So haastig in my stryd dat ek
Vergeet van vrede.