Sewefontein

So sit ek op ‘n klipmuur,
Hy is honderd jaar oud,
En om my dwarrel blare
In die oggendbries, koud.

Sommiges hang steeds,
Goudgeel, aan populiere
En ander val in stroompies
Wat uitvloei na riviere.

Dis skoon waterstroompies
Wat ontspring op hierdie werf
Uit sewe vars fonteine-
Die water oorvloed verf

Die landskap groen.
Mens moet hier wees
Om die skoonheid te beleef.
Dis soveel mooier as wat jy hieruit sal kan lees.

Soms dink ek Gods seën
Is vir een persoon te veel.
‘n Prentjie soos hierdie
Sal ek graag met jou wil deel.

6 Responses to Sewefontein

  1. anne-marie sê:

    Waar is Sewefontein? Ek sou ook graag eendag daarheen wou gaan 🙂

    • kaneelsuiker sê:

      Dit is op ‘n plaas in Nieuwoudtville. ‘n Vriend van my se oupa het daar groot geword en hulle het die ou gebou onderhou en in ‘n selfcatering gastehuis omskep. Mens ry plaaspad en deur ‘n riviertjie om daar uit te kom. Daar groei rooibostee langs die werf.

  2. annderster sê:

    mag ek jou critic wees? as ek die gedig geskryf het, sou ek minder woorde gebruik. laat die gevoel vir homself spreek in ‘n frase of twee.

    ek het selfs gedink met ‘n bietjie aanpassing sodat hy selfstandig is, sou die laaste strofe ‘n treffende, kort gedig op sy eie wees.

    • kaneelsuiker sê:

      Ek verwelkom kritiek van enigiemand. Ek het nou die 5de, 6de en 7de strofe uitgehaal.

      My idee het begin by die laaste strofe. Ek wou dit vir iemand stuur, maar het so bietjie motivering nodig gehad van wat presies vir my so mooi is dat ek dit wil deel.

      As ek my gedigte ‘n ruk laat lê, dan help dit my om meer objektief daarna te kyk wanneer ek nie meer so vasgevang is in emosie nie. Die kritiek help dat ek hom kan fine tune voor ek dit vir haar stuur. Dankie 🙂

  3. Grieta sê:

    Sommiges hang steeds,
    Goudgeel, aan populiere
    En ander val in stroompies
    Wat uitvloei na riviere….

    Kaneelsuiker… ek sien hoe die goudgeel oppi water sag wegdryf… dankie dit is special
    Grieta

Lewer kommentaar op Grieta Kanselleer antwoord