Meisie in my klas

April 6, 2010

“Donker hare, donker bril,
Alles meestal donker.
Fyn, stylvol, baie stil
Die derde ry van onder.”

Vriendin, Melanie wys toe weer
En skielik was ek verras.
Hier sien ek háár die eerste keer
In my Biochemie klas.

Vir 10 minute lank gestaar
En besluit dit is ‘n skande
Dat ek geen enkele ding van haar
Geweet het na ses maande.

‘n Elegante gestalte
Afgerond met eksotiese prag
En ek, voorheen nie, nou al te
Bewus van haar, elke dag.

Gewoonlik sit sy alleen
En ek wou haar graag ontmoet,
Maar wat het ons nou in gemeen
En hoe sou ek haar groet?

Dan nog daardie suiwer uitspraak,
Ek was effens skaam
Oor my gewone Engels, wat sou maak
Dat ek stotter oor my naam.

Toe op ‘n dag kom sit sy langs my.
Ek het gedink: “Nou’s dit”,
Hel, hier kom Philip en vra of hy
Maar tussen ons mag sit.

En heel bedagsaam skuif sy op,
Want nooit het sy verwag;
Ek, wit outjie, hou haar dop
En het hiervoor gewag.

My vriende kan maar altyd stry,
Maar ‘n swart meisie was,
Wel, ten minste volgens my,
Die mooiste meisie in ons klas.

Advertisements

Bloed

April 5, 2010

Wie se bloed val op jou hande?
Wie sal hierdie stryd verloor?

Weet jy van jou voorvaders?
Weet jy hoe moes hulle moor?

Wat het moord al ooit beloof,
Wat groot genade nie kon bring?

Jy het droë bloed op jou hande.
Jy vergeet, afstammeling.

Sal die skote nader klap?
Sal bloed buite jou huis spat?

Maak jou oë dan liewer toe.
Maak jou hande eerder nat

Met seep en water, wete skoon
Met insig in die plek van haat-

Jou eie bloed vlek ook jou hand.
(Jou eie trane vloei te laat)

Bloed uit letsels, oopgekrap.
Bloed van volke, omgekrap.