Kaneelsuiker en Annderster kuier

November 26, 2009

Sy bly in my dorp, sy praat my taal en ons het geleidelik ‘n vreemde bekendheid gevind in mekaar se woorde. Ek moes haar net ontmoet. Sy het die idee eerste voorgestel, maar was onseker of dit die magic en gemak van ons blogs sou steel. Ek het toe my identiteit laat “glip”, sodat sy by mense kon uitvind hoe ‘n oulike outjie ek nou eintlik is (nie jou algemene internet stalker nie). Die reël was dat hierdie blinde ontmoeting nie te romanties mag wees nie, net ‘n gemaklike uurtjie of twee na die eksamens.

Na ‘n lang gewag vir die regte dag, het ek en Annderster uiteindelik op ‘n tyd en plek besluit om te ontmoet. Dit sou wees by die botaniese tuin, 2uur een middag. Koffie en muffins. Ek het baie daarna uitgesien tot die oggend voor die ontmoeting. Na ek die naweek ‘n paar rand verdien het, was ek glad nie bekommerd dat ek nie twee koffies sou kon bekostig nie. My bankrekening was vir die eerste keer dolleeg, maar die kontant in my beursie was gerusstellend.

‘n Impulsiewe besluit om ‘n nuwe hardeskyf aan te skaf het daardie gemak so bietjie van my ontneem. Ek moes met R70 uitkom vir twee dae (aan die einde van ‘n jaar het ‘n seun nie meer enige kos in sy koshuiskamer nie), maar ek het op twee vriende staat gemaak om my te help. My kamermaat het my belowe dat hy daardie oggend sou kom om te ontruim. Dit het toe nie gebeur nie. My laaste hoop was op my broers-vriend by wie ek die hardeskyf gekoop het. Hy bly ‘n paar treë van die botaniese tuin af. Ek bel hom toe te laat, net om uit te vind dat hy nie meer daar is nie.

Ek het maar blitsig reggemaak, my deurmekaar hare platgevee met gel en in die kar gespring om hopelik nog ‘n laaste R20 uit my rekening te kon trek. Deesdae gee die OTM’s amper net R50 of R100. By die hoof ABSA aangekom is daar toe geen parkering nie. Ek ry toe maar na die tuine, hoogs gestres, met net ‘n R50 in my beursie. Hiermee moet ek nou koffie en muffins koop en vir haar ook kan betaal (onthou eerste indrukke). Ek moes maar net my trots sluk en begin dink aan hoe ek haar gaan kry om self te betaal, sonder dat dit lyk asof ek nie kan nie. Nog groter was my bekommernis toe ek by die restaurant aankom en die hele plek is stampvol. Ek het die plek nog nooit so gesien nie. Daar was een of ander funksie. Ek vra toe maar vir die volgende tafel wat oopgaan en gaan wandel ‘n entjie tussen al die inheemse plante. “Damnit”, dink ek, die lang verwagte eerste ontmoeting gaan ‘n flop wees. ‘n Kwartuur later sien ek toe twee mense opstaan en ek pyl op die tafel af. Reg by die ingang met spasie na die kante… perfek! Ek was nog so besig om die tafel en sambreel te skuif, toe sien ek ‘n dame met ‘n rooi sambreeltjie aangestap kom, met ‘n bekende gesig aan haar sy.

My raaiskoot was verkeerd, hierdie persoon het ek nog nooit van tevore gesien nie… en sy is mooi! Haar kêrel ken ek van koshuis af en hy is weereens ‘n verrassing. Ek weet toe darem een ding. Hierdie ou is baie lief vir komedie en dit sal nie te moeilik wees om ‘common ground’ te vind nie. Die ontmoeting was toe baie gemaklik. Ons albei bestel toe melkskommels en, na ek seker was dat sy niks sou eet nie, ek ‘n wortelkoek. Dit was so lekker koel en rustig in die tuin en ons gesprek het vlot verloop. Sy beïndruk my toe met nuwe konsepte waaroor ek nooit voorheen gewonder het nie. Dit was ook interessant om uit te vind waar ons prentjies oorvleuel. Die tyd sweef saggies verby en toe kom die rekening. Ek het my beursie probeer toe hou, was bang sy sien dat ek net ‘n 50 op my het. Ek bied toe aan, maar sy sit ook ‘n 50 neer. Ek skuif dit weg en sy tel dit op en plak dit met mening neer. Perfek! My 50 dek toe net-net die wortelkoek, een melkskommel en tip.
Na die tyd stap ek haar toe huistoe en sy wys my haar tuin. Oplaas bedank ek haar en ons groet. Die ontmoeting was ‘n groot sukses.

Ek loop terug na my motor by die restaurant en op pad soontoe sien ek in die weerkaatsing van ‘n kar se ruit, dat my gel-hare in alle rigtings verwaaid is.

Advertisements