Die boelie by die groente winkel.

Ons het maar soos altyd buite by die swaaie gewag, terwyl sy haar groente in die winkel uitgesoek het. Die speel parkie was langs die parkeer terrein en daar was gewoonlik nie veel ander kinders nie.

Die vreemdeling seuntjie was meer jou ouderdom en hy het reguit na ons toe aangeloop op soek na vermaak. Julle twee het gegroet en saam begin speel. Toe ek nader kom, het hy my weggejaag, sodat die twee grotes uitsluitlik die swaai kon gebruik. Ek het baie veronreg gevoel dat jy sy kant kies, maar ek het net na ‘n ander apparaat beweeg en my eie ding gaan doen.

Dit was nie lank nie, toe kom storm die magsbehepte vent weer op my af. Hierdie keer het hy my vasgepen en my wind uitgefoeter. Die ongekenne geweld het jou verstom laat toekyk. Ek kon nie ‘n woord uitkry nie, het deur die pyn gewens jy kom tot my redding.

My desperate poging om te vlug het my tot by die klimraam gebring, waar ek skaars kon opklim om weg van die gevaar, oor ‘n dwarspaal te lê en kreun. Ek het nie gehuil nie, moontlik uit skok, beslis uitasem. Vanuit ‘n afstand het ek gekyk hoe jy doodluiters met die klein kak aanhou speel het. Ongeërg, lafhartig, geen held vir ‘n kleinboet. Miskien was jy stilweg bly dat ek, wat altyd skree en my sin kry, ‘n slag op my plek gesit is.

Ek het jou nie vir altyd daaroor verwyt nie. Ek kon jou situasie verstaan, maar daardie dag het ‘n skeiding tussen ons twee gebring. By my ‘n gevoel van minderwaardigheid. By jou het iets van daardie ervaring vasgesteek. Hy het jou mos geleer hoe om met my te maak. Die rede waarom jy my moes verwerp het jy nie geweet nie, net die tendens dat jy jouself en jou vriende moet afsonder van die swakker, jonger een het by jou gebly. In daardie kritiese tydperk van broederskap vorming, het ons verhouding geswik onder uitbarstings van aggressie en emosionele onbetrokkenheid by mekaar.

Die aanvanklike gevoelens sou mettertyd verdwyn, maar vir baie lank het die onverstaanbare skeiding agter gebly. Wanneer die behoefte aan intimiteit opdaag, is dit altyd ongemaklik. Dit is die resultaat van jare se leemte, waar liefde kon gewees het.

17 Responses to Die boelie by die groente winkel.

  1. ELF sê:

    Jy skryf my in n anderste stilte in vandag. Hierdie post vra om weer gelees te word, elke keer met n ander bril. Want hierdie ses paragrawe hou soveel meer vas as die woorde waaruit hulle bestaan.

    Ek wonder hoeveel van ons stap daagliks blindelings weg van situasies waar ons iemand se held kon gewees het, non-the-wiser. En terselfdertyd, as ons geweet het watter impak ons kon he, sou dit ons maak omdraai?

    Mooi post, regtig.

    • kaneelsuiker sê:

      Hey Elf! Dankie, dis lekker om dit te hoor. Jy lees altyd my blog met gevoel en jy sien weereens die klein wenke langs die pad raak wat ek graag weg steek, sodat iemand wat aandagtig lees dit kan vind.

      Ek wil by jou spooklag blog uitkom, maar dit is nou protected. Sal ek in die toekoms weer daar kan inloer?

  2. Jou Broer sê:

    Jy kon nog altyd beter onthou van toe ons klein was as ek. Ek kan eintlik baie min onthou. Hierdie klink presies soos ons. Selfs al wonder ek nou of hierdie net ‘n storie is, sit ek in my kantoor en ek kan niks verder werk doen nie want ek glo dit het rerig gebeur en ek is stomgeslaan. My brein het ophou werk, ek weet nie nou wat om te sê nie.

    • kaneelsuiker sê:

      Wow, ek het die moontlikheid oorweeg dat jy dit eventueel sou lees, maar hierdie is nogal gou. Ek is nou self geskok. Dit het regtig gebeur, lank terug by Pick a’ Crop. Moenie dat dit jou ontstel nie. Ons was klein en die situasie was buite jou beheer. Ek herroep net die emosies wat ek toe gevoel het vir die storie se onthalwe. Ek neem jou al lankal nie meer kwalik nie.

      Ek probeer om al my relevante herinneringe neer te skryf, sodat ek self daaroor kan wonder en verstaan hoe dit my op die lang duur affekteer het. ‘n Stukkie persoonlike geskiedenis, bly jy lees dit, maar dis nie bedoel om jou seer te maak nie.

      • Jou Broer sê:

        Of course, ek lees jou blog. Ons is nou in my nuwe speel parkie, Die Internet. Ek weet jy bedoel nie om my seer te maak nie, ek is bly jy het hierdie geskryf en dat ek kan komentaar lewer.

        Ek wens ek kon terug gaan in tyd en myself ‘n snotklap gee, maar ons het nog nie daai tegnologie ontwikkel nie. Ek is jammer dat ek dit gedoen het, ek kannie glo ek het nie vir jou opgekom nie. Ek voel sleg al kan ek nou niks daaraan doen nie.

        Selfs al sou jy my nou nog kwalik neem sou dit nie meer dieselfde persoon wees vir wie jy kwalik neem nie. Ek was ‘n klein, selfsugtige, jaloerse, manipulerende seuntjie. Baie klein kindertjies is. As jy my egter wil kwalik neem vir iets wat ek gedoen het na ek my verstand gekry het, dan is jy meer as welkom. Onthou jy die keer wat ek vir Riaan Hunter geslaan het toe hy jou seergemaak het? hehe. Maar ek probeer nie myself verdedig nie, ek weet ek was maar ‘n lafhartige klein kindertjie. Dalk is ek nogsteeds.

        Ek het al baie nagedink oor daai tyd en baie van die besluite wat ek vandag maak is doelbewus om nie meer daai seuntjie te wees nie. Ek weet ek was baie keer baie lelik met jou, en ek het al baie sleg gevoel oor dit. Ek sien dieselfde ding by ander klein kindertjies. Ek dink nie ons het so ‘n abnormale verhouding gehad nie, of wat dink jy?

        Hou asseblief aan herhinneringe skryf, goed of sleg, moenie bekommer oor wat iemand gaan dink wat dit lees wat betrokke was by dit nie. Bly eerlik, selfs al maak dit seer. Soos ek sê, jou geheue is baie skerper as myne. Dan kan ek ook daaroor wonder en verstaan hoe dit vir -my- op die lang duur affekteer het.

  3. mnr.muller sê:

    Intydse versoening: briljant! Jou skryfwerk het volvuis ouboet se wind uitgeslaan.

    Doe zo voort! Dis hierdie tipe egte emosie wat universeel aanklank vind.

    * * *

    Onverwante inskrywing op my ander skerm: http://dilbert.com/blog/entry/another_gender_generalization/

  4. Sonkind sê:

    Dit was nou magic om hierdie te lees en toe jou broer wat reageer. Julle twee laat my baie aan my en my kleinsus dink – wel ons is nie een meer klein nie. Maar sy was die bedorwe brok en ek het haar verpes. Maar met volwassenheid het ons verhouding herstel. Sy dra egter die letsels erger saam met haar as ek.

  5. annderster sê:

    eers wou ek wegskram van hierdie blog. ek het nie boeties nie, en ek wil nie met nog seerkry gekonfronteer word, ‘n nuwe soort seerkry waarvoor ek nie vroeer plek gemaak het in my hart nie.

    maar toe lees ek jou broer se antwoord. en dink – sjoe kaneelsuiker, ja mense naby aan jou lees jou blogs, vra vir annderstertjie wat haar blog toegemaak het omdat sy nie besef het die hoofkarakter lees dit nie!

    ek het eers omtrent 2jr gelede besef hoe gevaarlik elke stukkie kritiek in my mond is vir my kleinsus. ek voel soms skuldig dat ons oudste kinders soveel mag het… ons weet baie selde hoe om dit te handle.

    broers, ek hoop die … effekte waarvan kaneels praat in die laaste paragraaf sal eendag herstel. dit sal trots-in-sak-steek vat… sterkte.

    ns. ek ken vir riaan hunter en ek kan nogal dink hy was ‘n unpleasant seuntjie! jy moet pasop, hy google dalk net sy naam en kry al hierdie stuff… maar dalk sal die twee broers nie omgee nie.

    • kaneelsuiker sê:

      lol, Riaan kan dit maar lees. Hy het op ‘n latere stadium self vir my opgekom.
      Ek gaan nie weer om verskoning vra nie. Wat ek hier geleer het is dat ek eerlik moet wees. So, name gaan genoem word, harte gaan gebreek word, maar die waarheid sal uitkom hier op my blog!

  6. Kaneel, ek haal my hoed vir jou af. Jy herhinner my aan Alexi in boek Die Karamazov broers van Dostoevsky. Jou en jou broer se eerlikheid en openhartigheid is nastrewenswaardig.

  7. annderster sê:

    ek het nie vergeet dat ek jou een of ander tyd wil ontmoet nie😉 dinge gaan net bitter dol. en ek kan eintlik nie glo ek het jou nog nie raakgeloop nie!

    na die exams…

  8. kaneelsuiker sê:

    Hehe, ek stem saam. Kom ons kry eksamens agter die rug.

  9. annderster sê:

    http://thelastsongiwriteaboutyou.blogspot.com/ jy sal van haar hou. ek weet nie waar sy is nie, maar sy’s jonk en afrikaans en… wel, check dit uit. se my wat jy dink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: