Fokofpolisiekar dokumentêr

Oktober 31, 2009

Vir ‘n lekker eksamen breuk het ek gisteraand V&A Waterfront toe gery om die Fokofpolisiekar dokumentêre rolprent te gaan kyk. Ek was aangenaam verras.

Die film wys die genesis van hierdie eerste Afrikaanse punk-rock groep, waar hulle toer en al vyf in een kamer moet bly, pamflette uitdeel en hulle sente omdop om brood, drank en ander basiese behoeftes te kan bekostig. Daar is ook deurgaans kommentaar van ander belangrike figure in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. So kry mens nie net die perspektief vanuit die Bende (soos hulle ook genoem word) se oë nie, maar verstaan mens die konteks van hulle verhaal.

Die tydsberekening van die groep was perfek, hetsy toevallig, maar die tiener generasie sonder identiteit was die golf wat hulle gevang en uitegery het na sukses. Dit is die jong, wit, post-apartheid jeug wat hulle wil distansieer van hul ras se verlede, van hulle voorgeskrewe en tradisionele leefstyl in ‘n nuwe liberale wêreld, maar tog vasgevang word in die swaai van die pendulum na regstellende aksie.
Die rou energie was daar en hulle het dit meesterlik ingespan, maar as ikone in die skerp lig van die media, het hulle ‘n ongevraagde verantwoordelik op hulle skouers gedra. Foute langs die pad het hulle onder hewige kritiek geplaas, maar aan die ander kant het dit gesorg dat iedere Afrikaner van hulle te hore kom. Soos een van hulle egter in die film uitwys, is hulle nie die sondebok wat rebelsheid en sekularisasie onder die jeug veroorsaak het nie. Hulle is eerder die produk van hulle samelewing.

Ek self was nie in die beginjare ‘n aanhanger van die groep nie en hulle eerste CD het my nie veel beïndruk nie. Hulle musiek se kwaliteit het egter mettertyd verbeter en ek het so vanaf hulle derde album, Monoloog in Stereo, weer begin luister. Hierdie keer het die musikale talent en woordkuns my aangegryp en ek het begin om meer aandagtig na al hulle musiek te luister.

Die vyf lede van Fokofpolisiekar het elkeen ‘n unieke bydrae tot die groep gebring en saam is hulle ‘n wenresep. Wynand Myburgh (baskitaar) vermaak skare met sy uitbarstings van energie en oorgawe op die verhoog. Francois van Coke (hoofsanger), met sy unieke hees stem en styl, het ‘n verhoog persoonlikheid vervolmaak. Jaco Venter bring goeie dinamiek en variasie in ritme met sy dromme wat hy so hard moer, dat hulle by sommige vertonings liedere akoesties verder moet speel. Dit is nou waar die ‘magic’ inkom. Johnny de Ridder en Hunter Kennedy, die twee kitaarspelers, is ‘n wonder kombinasie wat hierdie orkes ver bo enige ander rock-groep in Suid-Afrika uitlig met briljante melodië, wat nooit tot vervelens herhaal word nie en daar waar hulle oorgaan na ‘n nuwe “riff”, is die vloei perfek gebalanseer en dit maak van elkeen van hulle liedjies ‘n musikale meesterstuk. Hulle CD’s kan oor en oor geluister word, sonder dat mens een snit hoef oor te slaan.
Hunter Kennedy is ‘n flippen digter. Hy skryf, soos ek verstaan, meeste van die lirieke en dit in suiwer Afrikaans. Waaghalsig, maar briljant en sonder enige anglisismes, is hy ‘n held vir die Afrikaanse taal.
Hier is ‘n paar van my gunsteling uittreksels uit hulle liedjies.

Uit: MORNINGSTAR, DURBANVILLE
Tyd leen sy wysheid
Aan wie geduldig wag
Die nag wys sy geheime
Vir wie se oë aan kan pas

Soepel en sag
Aan die buitekant
Maar daar’s ‘n diamant
Waar jou hart moet wees
My skat

Die krag kan maar afgaan
Jy skyn tog helder
Jou rykdom begrawe
Tussen longe en are

UIT: MY LYS VERSKONINGS
Jy praat van revolusie
Ek praat van die enigste
Uitweg van my voortbestaan
Jou ondergang
My bestaan

Uit: LUGSTEURING
Wat is fout met my?
Kan ek ‘n professionele diagnose kry?
Ek wil net nie verkeerd wees in
Hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
Emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
Spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
En ons siele met prentjies van die see

Uit: VASBESLOTE KORPORASIE (Deel 2)
Regstellende aksie pla my nie
Ek sal my eie manier kry
Inboorling of indringer spesie
Ek vertrou nie mense nie
Ek druk my kardeur knoppie af
As ek voor die verkeerslig wag
Ek’s nie paranoies nie
Miskien net ‘n klein bietjie

Uit: VAN WEELDE EN RYKDOM
Ek word deur my begeertes beheer
Ek’s net ‘n leek wat selde uit sy foute uit leer
Ek laat myself in die steek
Keer op keer
Is ek onbeskut teen stormweer

Uit: VIR ALTYD 07 NOVEMBER
Jy’t net soveel gedrink
En ook jou hele lewe lank
Probeer weghardloop
Ek weet nie hoe jy as kind was nie

Ek sien jou in meisies raak
En dan gaan soek ek jou daar

Als van jou wat in my gis
Gee my hoendervleis
As dit November is

Uit: ANTIBIOTIKA
Ek’s net ‘n toeris
In my geboorteland
Gekwesde dier in ‘n hok
Op antibiotika

Die dokumentêr wys ook die gesigte agter die verhoog wat die 5 musikante begelei deur die dorre Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Wanneer die groep op hiate gaan, werk die lede aan aparte sy-projekte, die gifkinders van Fokofpolisiekar: Van Coke Kartel, aKING en Die Heuwels Fantasties.
Ek is net so erg oor Die Heuwels Fantasties. Dit bestaan uit my twee helde, Hunter en Johnny, wat saammet Pierre Greeff van Lukraaketaar die pioniers is van Afrikaanse electronic rock. Hulle het gereeld gaskunstenaars wat saammet hulle optree en sing (of rap) in van hulle snitte.

Ek beveel hierdie prent aan vir enige persoon wat nuuskierig is oor hierdie kontroversiële musiekgroep, wat meer wil leer van die Afrikaanse jeug of wat smag na ‘n dosis musikale talent. Wees net gewaarsku, dit is nie bedoel vir sensitiewe ore nie.

Advertisements

Die boelie by die groente winkel.

Oktober 8, 2009

Ons het maar soos altyd buite by die swaaie gewag, terwyl sy haar groente in die winkel uitgesoek het. Die speel parkie was langs die parkeer terrein en daar was gewoonlik nie veel ander kinders nie.

Die vreemdeling seuntjie was meer jou ouderdom en hy het reguit na ons toe aangeloop op soek na vermaak. Julle twee het gegroet en saam begin speel. Toe ek nader kom, het hy my weggejaag, sodat die twee grotes uitsluitlik die swaai kon gebruik. Ek het baie veronreg gevoel dat jy sy kant kies, maar ek het net na ‘n ander apparaat beweeg en my eie ding gaan doen.

Dit was nie lank nie, toe kom storm die magsbehepte vent weer op my af. Hierdie keer het hy my vasgepen en my wind uitgefoeter. Die ongekenne geweld het jou verstom laat toekyk. Ek kon nie ‘n woord uitkry nie, het deur die pyn gewens jy kom tot my redding.

My desperate poging om te vlug het my tot by die klimraam gebring, waar ek skaars kon opklim om weg van die gevaar, oor ‘n dwarspaal te lê en kreun. Ek het nie gehuil nie, moontlik uit skok, beslis uitasem. Vanuit ‘n afstand het ek gekyk hoe jy doodluiters met die klein kak aanhou speel het. Ongeërg, lafhartig, geen held vir ‘n kleinboet. Miskien was jy stilweg bly dat ek, wat altyd skree en my sin kry, ‘n slag op my plek gesit is.

Ek het jou nie vir altyd daaroor verwyt nie. Ek kon jou situasie verstaan, maar daardie dag het ‘n skeiding tussen ons twee gebring. By my ‘n gevoel van minderwaardigheid. By jou het iets van daardie ervaring vasgesteek. Hy het jou mos geleer hoe om met my te maak. Die rede waarom jy my moes verwerp het jy nie geweet nie, net die tendens dat jy jouself en jou vriende moet afsonder van die swakker, jonger een het by jou gebly. In daardie kritiese tydperk van broederskap vorming, het ons verhouding geswik onder uitbarstings van aggressie en emosionele onbetrokkenheid by mekaar.

Die aanvanklike gevoelens sou mettertyd verdwyn, maar vir baie lank het die onverstaanbare skeiding agter gebly. Wanneer die behoefte aan intimiteit opdaag, is dit altyd ongemaklik. Dit is die resultaat van jare se leemte, waar liefde kon gewees het.