Skoonheid

Augustus 29, 2009

Vlinder

Ek neem maar al my foto’s met ‘n 5mp cameraphone. ‘n Goeie kamera is ietwat laer op my lys van behoeftes. Tog… nie te sleg nie, né?


My retoriese vrae

Augustus 28, 2009

Ek was eens van menswees vervreem.
Om eie aan myself te bly,
Het ek deelname meestal vermy
Ek het niemand met my saamgeneem

Op my dwaal-reis in fantasie
Daar het ek rondgesweef,
Gemaklik, maar eensaam geleef
En tevrede was ek nog nie

Toe val jy my by en net daar,
In ons gesprekke laat in die nag,
Besef ek deur al die gelag
En vrae (nou dat ek hul gewaar)

Daar’s mistiek versteek in realiteit
Hoeveel warmte’s agter jou glimlag
Watter gevoel sal my oorweldig
As dit net ek is in jou teenwoordigheid

Ek het antwoorde gehad tot nou.
Hoeveel skatte lê tussen ons begrawe
Sal jy my van verskrikking kan lawe
En een laaste vraag aan jou:

Sal ons ooit saam net kan reis,
Verstar die wêreld kan bekyk
Net kan sit en voel en ruik
Wyl tyd soos die wind verby suis?


Myne

Augustus 27, 2009

Ek breek jou af
en bou jou op

Jy skud jou kop
ek hou jou dop

Ek maak jou woedend
en lam en skaterlag

Jou lewe in eenvoud
kom ek en kompliseer

Alles mooi georganiseer,
in bokse geplaas
elke ding waar dit hoort,
soort by sy soort,
kom ek en skuif dit rond
weer heel deurmekaar

Maar ek ken jou goed
en ek weet wat jy benodig
die bietjie is genoeg
om behoeftes te bevredig
om met my uit te hou,
dis die keuse wat jy maak

Wat ek jou gee is als
wat jy werklik wil hê

Dan beur jy eens weg,
maar ek trek jou terug,

Hou jou styf vas
en jy hoor weer:

Gee net op,
jy’s myne!


Beskerm: Weer in die donker

Augustus 23, 2009

Hierdie inhoud word deur ‘n wagwoord beskerm. Gee asseblief die wagwoord om die inhoud the besigtig.


Beskerm: Gee net oor

Augustus 21, 2009

Hierdie inhoud word deur ‘n wagwoord beskerm. Gee asseblief die wagwoord om die inhoud the besigtig.


Huishoudelike Geweld

Augustus 16, 2009

My vuis jeuk alweer,
Jou gesig lyk so sag;
My verwoestende humeur.

Ek storm in by die deur
En demonstreer my krag,
My vuis jeuk alweer.

Jou nuwe rok skeur;
Wil jou hou onder my mag,
My verwoestende humeur.

As jy so treur
tot laat in die nag;
My vuis jeuk alweer.

Jy wou my ‘n les leer,
Wat het jy verwag?
My verwoestende humeur.

Ek maak seker jy sweer,
By die huis sal jy wag,
Want my vuis jeuk alweer.
My verwoestende humeur.


Plaas

Augustus 15, 2009

Sluimer sag in doflig-maan
As koel-bries oor my laken trek
Buite vensters, agter gaas
Lê wingerdrye wydgestrek

Krieke, besies, heelaand raas
Verder stilte, luister!
Nêrens elders so gerus
Net my gedagtes fluister

Ruik die nag: opmerklik vrugbaar
Perskes, stof en klei
Met water uit die Oranje
Deur kanale natgelei

Doer loop skaap op Blouputs grond,
Waar mynkop en ‘n huis is
Springbok troppe trippel daar
En steenbok tussen ruigtes

‘n Groot, stywe, ou hand
Trek speels hier aan my voet
Vroeg op en in die pad,
Bietjie boer in my bloed