Ice tea

February 2, 2010

In die ekonomiese laagwater waarin ons tans swem, word daar van baie verwag om algemene luukshede uit te sny. Ons het seker elkeen ‘n paar wysers en alternatiewe wat die water meer drinkbaar maak.

Gepraat van drink, hier is die eenvoudigste resep vir ‘ice tea’ wat jy ooit sal kry. Dit spaar op die sap en dit les jou dors en as jy dit gereeld drink, word jy maer (ek dink).

Bestanddele: -Rooibostee (belangrik!)
-Sap (appel, appelkoos en perske werk goed)

Kook die tee op die stoof. Laat dit afkoel. Gooi in ‘n glas ding en meng met een- tot twee-maal soveel sap as tee. Sit dit in die yskas, natuurlik.

Dié van julle wat gewoond is aan baie suiker en melk in julle tee mag aanvanklik nie vreeslik van die wilde rooibos smaak hou nie, maar mens raak dit gewoond (en later daaraan verslaaf).

Kaneelman, uit!


As die seep val…

Januarie 24, 2010

Moet jy maar buk, boet!

So, metafories gestel; jy bly in ‘n manskoshuis waar elke gang hul eie badkamer deel. Die storte is oop, dìt deel jy ook, sommer om bietjie gees te bou. Dit is nogal ‘n goeie plek vir male bonding. Die storte word van die res van die badkamer afgesonder deur sulke aaklige groen dikplastiek flappe wat jou boude klap al loop jy hoé versigtig deur. Nadere inspeksie van hierdie koue, deurskynende flappe sal die een of twee odd swart, kronkelende hare toon. As jy een sou vat en uitrek, sou dit ontveer ongeveer 10 cm lank wees.
Janee, mens deel die storte met aap-mense ook. Dis eintlik nogal skokwekkend as een kreatuur jou oog eenmaal vang en jy foutiewelik afkyk en gewaar: It’s a jungle down there! Die man se arme vrou eendag, hoe gaan sy nie moet soek… tsk tsk tisk.

Dan gebeur dit een oggend dat jy heel vaak na die stortplek strompel. Jy draai die rooi kraan woes oop en gewoonte laat jou wegkoes vir die eerste koue sproei en dan kyk jy deur jou slaap na die beweging van die stroompies af na die drein. Wanneer jy die stoom teen jou gesig voel blaas, dan skakel jy die koue kraan oop, sonder om aan die warm te stel, want die koshuis se waterdruk is nimmereindigend. Dit hou net nie op nie. Na ‘n dag se harde arbeid is dit hemelse masseerterapie. Nou is jy sterk besig om wakker te word, maar hand met die seepkissie is nog lui. Hy keer toe nie gou genoeg toe die oorvol rakkie nie wou plek maak vir ‘n nuwe koekie nie. En daar tuimel jou enigste, eie skoon sepie af (seepkissie val ook en breek) en gly soos die gladde ding wat hy is tot in die voortjie en af met die water tot onder. As jy gelukkig is, dan het iemand sy shower gel aan ‘n kraan vergeet. As jy ongelukkig en desperaat is, dan loop jy maar tot onder en tel hom uit waar hy nou so dammetjie water agter hom opgebou het. Jy vryf hom eers teen die muur om die ergste laag vullis af te kry en dan nog behoorlik onder die kraan voor dit weer aan jou lyf mag raak. Jy is nogal gewalg deur die feit dat Pietie gewoonlik piepie in die stort en die slym in die sloot is ‘n perfekte broeiplek vir ‘n saprofiet wat nou op jou gaan lewe.

As jy werklik ongelukkig is, is jy nie die enigste een in die stort nie en moet jy nou hurk voor ‘n ou wie se seksuele identiteit en frustrasie vlakke onbekend is. Dit is in tye soos hierdie wat ons òf uitmuis en die stort ongestort verlaat òf ons buk maar af en vat dit soos ‘n man…


Kaneelsuiker en Annderster kuier

November 26, 2009

Sy bly in my dorp, sy praat my taal en ons het geleidelik ‘n vreemde bekendheid gevind in mekaar se woorde. Ek moes haar net ontmoet. Sy het die idee eerste voorgestel, maar was onseker of dit die magic en gemak van ons blogs sou steel. Ek het toe my identiteit laat “glip”, sodat sy by mense kon uitvind hoe ‘n oulike outjie ek nou eintlik is (nie jou algemene internet stalker nie). Die reël was dat hierdie blinde ontmoeting nie te romanties mag wees nie, net ‘n gemaklike uurtjie of twee na die eksamens.

Na ‘n lang gewag vir die regte dag, het ek en Annderster uiteindelik op ‘n tyd en plek besluit om te ontmoet. Dit sou wees by die botaniese tuin, 2uur een middag. Koffie en muffins. Ek het baie daarna uitgesien tot die oggend voor die ontmoeting. Na ek die naweek ‘n paar rand verdien het, was ek glad nie bekommerd dat ek nie twee koffies sou kon bekostig nie. My bankrekening was vir die eerste keer dolleeg, maar die kontant in my beursie was gerusstellend.

‘n Impulsiewe besluit om ‘n nuwe hardeskyf aan te skaf het daardie gemak so bietjie van my ontneem. Ek moes met R70 uitkom vir twee dae (aan die einde van ‘n jaar het ‘n seun nie meer enige kos in sy koshuiskamer nie), maar ek het op twee vriende staat gemaak om my te help. My kamermaat het my belowe dat hy daardie oggend sou kom om te ontruim. Dit het toe nie gebeur nie. My laaste hoop was op my broers-vriend by wie ek die hardeskyf gekoop het. Hy bly ‘n paar treë van die botaniese tuin af. Ek bel hom toe te laat, net om uit te vind dat hy nie meer daar is nie.

Ek het maar blitsig reggemaak, my deurmekaar hare platgevee met gel en in die kar gespring om hopelik nog ‘n laaste R20 uit my rekening te kon trek. Deesdae gee die OTM’s amper net R50 of R100. By die hoof ABSA aangekom is daar toe geen parkering nie. Ek ry toe maar na die tuine, hoogs gestres, met net ‘n R50 in my beursie. Hiermee moet ek nou koffie en muffins koop en vir haar ook kan betaal (onthou eerste indrukke). Ek moes maar net my trots sluk en begin dink aan hoe ek haar gaan kry om self te betaal, sonder dat dit lyk asof ek nie kan nie. Nog groter was my bekommernis toe ek by die restaurant aankom en die hele plek is stampvol. Ek het die plek nog nooit so gesien nie. Daar was een of ander funksie. Ek vra toe maar vir die volgende tafel wat oopgaan en gaan wandel ‘n entjie tussen al die inheemse plante. “Damnit”, dink ek, die lang verwagte eerste ontmoeting gaan ‘n flop wees. ‘n Kwartuur later sien ek toe twee mense opstaan en ek pyl op die tafel af. Reg by die ingang met spasie na die kante… perfek! Ek was nog so besig om die tafel en sambreel te skuif, toe sien ek ‘n dame met ‘n rooi sambreeltjie aangestap kom, met ‘n bekende gesig aan haar sy.

My raaiskoot was verkeerd, hierdie persoon het ek nog nooit van tevore gesien nie… en sy is mooi! Haar kêrel ken ek van koshuis af en hy is weereens ‘n verrassing. Ek weet toe darem een ding. Hierdie ou is baie lief vir komedie en dit sal nie te moeilik wees om ‘common ground’ te vind nie. Die ontmoeting was toe baie gemaklik. Ons albei bestel toe melkskommels en, na ek seker was dat sy niks sou eet nie, ek ‘n wortelkoek. Dit was so lekker koel en rustig in die tuin en ons gesprek het vlot verloop. Sy beïndruk my toe met nuwe konsepte waaroor ek nooit voorheen gewonder het nie. Dit was ook interessant om uit te vind waar ons prentjies oorvleuel. Die tyd sweef saggies verby en toe kom die rekening. Ek het my beursie probeer toe hou, was bang sy sien dat ek net ‘n 50 op my het. Ek bied toe aan, maar sy sit ook ‘n 50 neer. Ek skuif dit weg en sy tel dit op en plak dit met mening neer. Perfek! My 50 dek toe net-net die wortelkoek, een melkskommel en tip.
Na die tyd stap ek haar toe huistoe en sy wys my haar tuin. Oplaas bedank ek haar en ons groet. Die ontmoeting was ‘n groot sukses.

Ek loop terug na my motor by die restaurant en op pad soontoe sien ek in die weerkaatsing van ‘n kar se ruit, dat my gel-hare in alle rigtings verwaaid is.


Fokofpolisiekar dokumentêr

Oktober 31, 2009

Vir ‘n lekker eksamen breuk het ek gisteraand V&A Waterfront toe gery om die Fokofpolisiekar dokumentêre rolprent te gaan kyk. Ek was aangenaam verras.

Die film wys die genesis van hierdie eerste Afrikaanse punk-rock groep, waar hulle toer en al vyf in een kamer moet bly, pamflette uitdeel en hulle sente omdop om brood, drank en ander basiese behoeftes te kan bekostig. Daar is ook deurgaans kommentaar van ander belangrike figure in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. So kry mens nie net die perspektief vanuit die Bende (soos hulle ook genoem word) se oë nie, maar verstaan mens die konteks van hulle verhaal.

Die tydsberekening van die groep was perfek, hetsy toevallig, maar die tiener generasie sonder identiteit was die golf wat hulle gevang en uitegery het na sukses. Dit is die jong, wit, post-apartheid jeug wat hulle wil distansieer van hul ras se verlede, van hulle voorgeskrewe en tradisionele leefstyl in ‘n nuwe liberale wêreld, maar tog vasgevang word in die swaai van die pendulum na regstellende aksie.
Die rou energie was daar en hulle het dit meesterlik ingespan, maar as ikone in die skerp lig van die media, het hulle ‘n ongevraagde verantwoordelik op hulle skouers gedra. Foute langs die pad het hulle onder hewige kritiek geplaas, maar aan die ander kant het dit gesorg dat iedere Afrikaner van hulle te hore kom. Soos een van hulle egter in die film uitwys, is hulle nie die sondebok wat rebelsheid en sekularisasie onder die jeug veroorsaak het nie. Hulle is eerder die produk van hulle samelewing.

Ek self was nie in die beginjare ‘n aanhanger van die groep nie en hulle eerste CD het my nie veel beïndruk nie. Hulle musiek se kwaliteit het egter mettertyd verbeter en ek het so vanaf hulle derde album, Monoloog in Stereo, weer begin luister. Hierdie keer het die musikale talent en woordkuns my aangegryp en ek het begin om meer aandagtig na al hulle musiek te luister.

Die vyf lede van Fokofpolisiekar het elkeen ‘n unieke bydrae tot die groep gebring en saam is hulle ‘n wenresep. Wynand Myburgh (baskitaar) vermaak skare met sy uitbarstings van energie en oorgawe op die verhoog. Francois van Coke (hoofsanger), met sy unieke hees stem en styl, het ‘n verhoog persoonlikheid vervolmaak. Jaco Venter bring goeie dinamiek en variasie in ritme met sy dromme wat hy so hard moer, dat hulle by sommige vertonings liedere akoesties verder moet speel. Dit is nou waar die ‘magic’ inkom. Johnny de Ridder en Hunter Kennedy, die twee kitaarspelers, is ‘n wonder kombinasie wat hierdie orkes ver bo enige ander rock-groep in Suid-Afrika uitlig met briljante melodië, wat nooit tot vervelens herhaal word nie en daar waar hulle oorgaan na ‘n nuwe “riff”, is die vloei perfek gebalanseer en dit maak van elkeen van hulle liedjies ‘n musikale meesterstuk. Hulle CD’s kan oor en oor geluister word, sonder dat mens een snit hoef oor te slaan.
Hunter Kennedy is ‘n flippen digter. Hy skryf, soos ek verstaan, meeste van die lirieke en dit in suiwer Afrikaans. Waaghalsig, maar briljant en sonder enige anglisismes, is hy ‘n held vir die Afrikaanse taal.
Hier is ‘n paar van my gunsteling uittreksels uit hulle liedjies.

Uit: MORNINGSTAR, DURBANVILLE
Tyd leen sy wysheid
Aan wie geduldig wag
Die nag wys sy geheime
Vir wie se oë aan kan pas

Soepel en sag
Aan die buitekant
Maar daar’s ‘n diamant
Waar jou hart moet wees
My skat

Die krag kan maar afgaan
Jy skyn tog helder
Jou rykdom begrawe
Tussen longe en are

UIT: MY LYS VERSKONINGS
Jy praat van revolusie
Ek praat van die enigste
Uitweg van my voortbestaan
Jou ondergang
My bestaan

Uit: LUGSTEURING
Wat is fout met my?
Kan ek ‘n professionele diagnose kry?
Ek wil net nie verkeerd wees in
Hierdie lewenslang kleedrepitisie nie
Is die monster wat jou jaag
Emosionele progressie?
Is jy die enigste vyand van
Spirituele tegnologie?
Ons oë is vervang met skerms
En ons siele met prentjies van die see

Uit: VASBESLOTE KORPORASIE (Deel 2)
Regstellende aksie pla my nie
Ek sal my eie manier kry
Inboorling of indringer spesie
Ek vertrou nie mense nie
Ek druk my kardeur knoppie af
As ek voor die verkeerslig wag
Ek’s nie paranoies nie
Miskien net ‘n klein bietjie

Uit: VAN WEELDE EN RYKDOM
Ek word deur my begeertes beheer
Ek’s net ‘n leek wat selde uit sy foute uit leer
Ek laat myself in die steek
Keer op keer
Is ek onbeskut teen stormweer

Uit: VIR ALTYD 07 NOVEMBER
Jy’t net soveel gedrink
En ook jou hele lewe lank
Probeer weghardloop
Ek weet nie hoe jy as kind was nie

Ek sien jou in meisies raak
En dan gaan soek ek jou daar

Als van jou wat in my gis
Gee my hoendervleis
As dit November is

Uit: ANTIBIOTIKA
Ek’s net ‘n toeris
In my geboorteland
Gekwesde dier in ‘n hok
Op antibiotika

Die dokumentêr wys ook die gesigte agter die verhoog wat die 5 musikante begelei deur die dorre Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Wanneer die groep op hiate gaan, werk die lede aan aparte sy-projekte, die gifkinders van Fokofpolisiekar: Van Coke Kartel, aKING en Die Heuwels Fantasties.
Ek is net so erg oor Die Heuwels Fantasties. Dit bestaan uit my twee helde, Hunter en Johnny, wat saammet Pierre Greeff van Lukraaketaar die pioniers is van Afrikaanse electronic rock. Hulle het gereeld gaskunstenaars wat saammet hulle optree en sing (of rap) in van hulle snitte.

Ek beveel hierdie prent aan vir enige persoon wat nuuskierig is oor hierdie kontroversiële musiekgroep, wat meer wil leer van die Afrikaanse jeug of wat smag na ‘n dosis musikale talent. Wees net gewaarsku, dit is nie bedoel vir sensitiewe ore nie.


Die boelie by die groente winkel.

Oktober 8, 2009

Ons het maar soos altyd buite by die swaaie gewag, terwyl sy haar groente in die winkel uitgesoek het. Die speel parkie was langs die parkeer terrein en daar was gewoonlik nie veel ander kinders nie.

Die vreemdeling seuntjie was meer jou ouderdom en hy het reguit na ons toe aangeloop op soek na vermaak. Julle twee het gegroet en saam begin speel. Toe ek nader kom, het hy my weggejaag, sodat die twee grotes uitsluitlik die swaai kon gebruik. Ek het baie veronreg gevoel dat jy sy kant kies, maar ek het net na ‘n ander apparaat beweeg en my eie ding gaan doen.

Dit was nie lank nie, toe kom storm die magsbehepte vent weer op my af. Hierdie keer het hy my vasgepen en my wind uitgefoeter. Die ongekenne geweld het jou verstom laat toekyk. Ek kon nie ‘n woord uitkry nie, het deur die pyn gewens jy kom tot my redding.

My desperate poging om te vlug het my tot by die klimraam gebring, waar ek skaars kon opklim om weg van die gevaar, oor ‘n dwarspaal te lê en kreun. Ek het nie gehuil nie, moontlik uit skok, beslis uitasem. Vanuit ‘n afstand het ek gekyk hoe jy doodluiters met die klein kak aanhou speel het. Ongeërg, lafhartig, geen held vir ‘n kleinboet. Miskien was jy stilweg bly dat ek, wat altyd skree en my sin kry, ‘n slag op my plek gesit is.

Ek het jou nie vir altyd daaroor verwyt nie. Ek kon jou situasie verstaan, maar daardie dag het ‘n skeiding tussen ons twee gebring. By my ‘n gevoel van minderwaardigheid. By jou het iets van daardie ervaring vasgesteek. Hy het jou mos geleer hoe om met my te maak. Die rede waarom jy my moes verwerp het jy nie geweet nie, net die tendens dat jy jouself en jou vriende moet afsonder van die swakker, jonger een het by jou gebly. In daardie kritiese tydperk van broederskap vorming, het ons verhouding geswik onder uitbarstings van aggressie en emosionele onbetrokkenheid by mekaar.

Die aanvanklike gevoelens sou mettertyd verdwyn, maar vir baie lank het die onverstaanbare skeiding agter gebly. Wanneer die behoefte aan intimiteit opdaag, is dit altyd ongemaklik. Dit is die resultaat van jare se leemte, waar liefde kon gewees het.


Ek wil blog :(

September 26, 2009

Ek dink heeltyd aan goeie stories en gedigte, maar ek neem altyd lank om iets te skryf. Op die oomblik het ek nog toetse en take en kan ek nie die nodige aandag gee aan goeie inskrywings nie.

As julle besoekers met my wil praat, doen dit gerus. Ek kom loer nog gereeld in. Julle kan selfs vir my vrae vra, wat ek eerlik en op my tyd sal beantwoord.

Dankie vir die besoeke, selfs al gaan hier tans niks aan nie.


My koudbloedige maters

September 17, 2009

DSC01093b
Panther Chameleon (Furcifer pardalis)

DSC01095b
Bearded Dragons (Eintlik ‘n groot risiko om aan te hou, hulle kan ontsnap en die fynbos ekosisteem ontwrig)

DSC01104b
Yemen Desert Chameleon (Chamaeleo calyptratus)

DSC01101b
Madagascan plated lizard (Zonosaurus karstenii)

Al hierdie knape het ek by Butterfly World naby Stellenbosch afgeneem. Hulle is daar gerehabiliteer na smokkelaars hulle by die O.R. Tambo-lughawe verlaat het.


Ek en jy: die onvermydelike vraag.

September 17, 2009

Ek sit nou en dink
My sokkies is nat
My skoene is taai
My hare en klere,
Alles ruik na rook
Maar my hande, my
Hande ruik na room,
Parfuum- jou soort

Tot laat laas nag
Dans net ek en jy
Jy was aan my sy
Waarom so onseker
Onvermydelik nou
Staan hierdie vrae
Is ek jou vriend?
Of dalk iets meer

Hierdie tussenin
Lol met my brein
Ek is deurmekaar
Gee jou antwoord
Sonder dat ek vra
Ek ruik jou by my
So vertel my nou
Los jy hom vir my?


Hearts linked

September 12, 2009

hearts-linked

Ek is oor die algemeen nie ‘n fan van hartjies en sterretjies nie, maar hierdie prentjie het wel my aandag getrek.


Beauty

September 11, 2009

Along a path I hurried forth
And glimpsed at nameless passers-by
My hand, stretched out to touch, did glide
Through hedges right next to my side

My fingers weaved through leaf and twig
With greetings from the fresh morn dew
A thrill to feel its every drop,
When suddenly I came to stop

More timely could I not have paused
And turned to watch my tangled hand,
As on my arm, I noticed odd
A tiny gift from none but God

It moved easily, undisturbed
With fragile feet it felt and then
Placed careful steps without a sound
And curled its little tail around

Its one eye fixed upon a bug
The other darted here then there
Alive, harmless, danger-prone
Its colours blended with my own

In exchange for having mercy
This small creature showed me beauty,
Hidden from the unaware,
Is present almost everywhere

verkleurmannetjie1234